Deursoek hierdie blog

Donderdag 21 Januarie 2016

So lewer jou verhouding goeie vrugte


Hierdie volgende paar weke hier in die begin van die jaar gaan ons ʼn bietjie stilstaan by die dooie hout in ons lewens. Op grond van die analogie van snoei, kyk ons na verskeie tipe dooie goed in ons lewens wat ons geluk, positiewe en gesonde funksionering en ons lewens op verskeie maniere op ál agt vlakke raak.

In verhoudings spesifiek is daar dikwels dooie takke wat tot gevolg kan hê dat paartjies nie funksioneer soos wat hulle moet nie. Of wat groei verhinder. Dooie takke het tot gevolg dat die gesonde dele van die plant nie na behore groei nie.

Verder is die doel van snoei om meer lig te bring sodat daar meer son direk op die blare skyn sodat die plant beter vrug lewer. Hoe meer dooie takke in ʼn verhouding gelos word, hoe donkerder word dit en raak die paartjie dikwels al hoe meer na binne gekeer. Hoe meer die paartjie só met die dooie hout betrokke raak, kry die gesonde dele van die plant al hoe minder son. Dít het weer minder fotosintese tot gevolg wat op die ou einde ʼn kettingreaksie met negatiewe gevolge tot gevolg het. Dit loop daarop uit dat die verhouding swak vrugte dra.

Voordat ek in ʼn paar volgende paar blogs stilstaan by dié tipe dooie hout wat gesonde, gebalanseerde en gelukkige verhoudings heeltemal kan laat sterf, kom ons kyk dié week eers net ʼn bietjie na die motivering vir en die proses van snoei. 

Gesonde verhoudings is verhoudings waar dooie hout gereeld uitgesny word. Waar paartjies deur middel van gesonde kommunikasie dooie hout identifiseer, strategies die beste snoeiproses beplan en laastens dit uitvoer en gereeld evalueer.

Een van die beste geskenke wat jy jou verhouding of huwelik kan gee is om minstens een maal per jaar, maar indien moontlik selfs meer gereeld, ʼn “snoei naweek” te beplan.

Ja, jy het reg gelees. ʼn Naweek waar in die verhouding gesnoei word.

Mans wil mos dikwels net gaan dinge doen of het alewig ʼn verskoning van vriende, huis, werk, sport of watter ander aktiwiteit ook al wat hulle te besig hou om kwaliteit tyd met vroulief te spandeer. En gaan julle vir ʼn naweek weg, word die meeste van die tyd aan aktiwiteite spandeer, of dit nou kosmaak, visvang, gholf of wat ook al is.

Die vrouens daarenteen smag altyd na die romantiese wegbreke. ʼn Naweek waar daar diep in mekaar se oë gekyk word en eintlik met die hoop dat manlief haar van haar voete af gaan bederf en op die hande dra. Maar aangesien vrouens met die jare (sou die verhouding of huwelik so lank hou) wyser word, dan gebruik vroulief, in weerwil van manlief se aktiwiteite, die naweek as
“me time”.

Dus ʼn hele naweek “saam” weg met die minimum tyd saam.

ʼn Snoei naweek is nie een van die twee nie. Dit is nie die tyd om goed te gaan doen nie, maar dis ook nie ʼn romantiese wegbreek nie. ʼn Aktiwiteit en romantiese saamwees kan natuurlik ingewerk word, maar solank dit nie inmeng met die geselstyd nie.

Op só ʼn snoei naweek is die doel om knietyd, soos sommige huweliksverrykingsfasiliteerders dit noem, saam te spandeer.

Eerstens is die doel om eerlik na julle verhouding te kyk. Dit vra natuurlik die vermoë om goed en openlik te kan kommunikeer. Dit vra respek vir mekaar se gevoelens, maar ook frustrasies. Dit vra dat julle mekaar met genoeg vertroue sal hanteer omdat julle liefde vir mekaar steeds die middelpunt en belangrikste faset van die verhouding is.

Tweedens word alle dooie hout soos wat ons in die volgende paar weke gaan bespreek, geïdentifiseer. ʼn Ander Bybelse beeld vir dooie hout is die klein jakkalsies.

Derdens word praktiese maniere bekyk hoe julle hiervan kan ontslae raak. Hoe om dinge te verander of so te bestuur, intern in julle huis, of ekstern, om te keer dat dit verder ʼn negatiewe invloed in julle verhouding het.

Laastens beplan julle strategies hoe julle met julle waardes en doelwitte vir julself, jul verhouding en jul gesin die volgende jaar gaan aanpak. Beplan wat julle wanneer wil doen. Watter projekte julle dalk wil aanpak. Waarop julle tyd wil spandeer en waarop nie.

Wanneer julle die oefening ʼn tweede keer herhaal in ʼn paar maande se tyd of oor ʼn jaar, dan begin julle met ʼn evalueringsproses waarin julle alles in oënskou neem voordat julle met die identifiseringsproses begin.

In my boek wat later beskikbaar sal wees, sal so ʼn snoei naweek prakties verduidelik word en sal al die hulpmiddels beskikbaar wees om julle te help om ʼn suksesvolle en doelgerigte snoei naweek te geniet.

Die doel is om julle verhouding van krag tot krag te laat groei. Julle sterk en suksesvol te maak, of anders gestel, funksioneel, doeltreffend en gelukkig. Om julle liefde onbreekbaar te laat groei.

Snoeiwerk is ʼn positiewe proses wat gewoonlik verligting bring. ʼn Klein bietjie harde werk, bring jare se gesonde vrugte na voorskyn!


Donderdag 14 Januarie 2016

Roetine: Passiemoordenaar of motiveerder?



Ons almal ken sulke mense en dalk is jy een van hulle. Diesulkes wat ʼn streng geroetineerde lewe lei en nie ʼn sekonde van hul fyn uitgewerkte program afwyk nie en of onbeskof raak of in ʼn senutoestand ingaan, moet hulle afwyk daarvan.

Aan die ander kant ken ons almal ook mense, en dalk is jy een van diesulkes, wat voel hulle word met kettings beheer as daar enige orde hoegenaamd in hul lewens is.

Tussen hierdie twee uiterstes punte van die skaal lê ons almal.

Sommige wat roetine verpes, ander wat nie daarsonder kan funksioneer nie.

As gevolg van die feit dat ons almal aan tyd gekoppel is en dat die samelewing, die skool, jou werk en meeste funksies in die lewe in absolute chaos sou verval  as daar nie orde was nie, moet ons almal daarby aanpas.

Maar hierdie geroetineerde leefstyl waarin ons dikwels vasval, kan lei tot groot frustrasies in verhoudings en huwelike. So wat nou gemaak? Hoe kan ons dit tot die beste van ons beskikking gebruik?

Roetine kan ʼn passiemoordenaar wees of ʼn motiveerder vir jou en jou huweliksmaat of vir jou en jou gesin.

Hier is drie tipiese voorbeelde hoe roetine ons verhoudings positief en negatief kan beïnvloed.

1. Vasgeval in roetine. 
Of jy nou ʼn roetine mens is of nie, die daaglikse roetine waarin ons vasgeval raak, dag in en dag uit, jaar in en jaar uit, veroorsaak dikwels dat ons doodmoeg is aan die einde van die week. Dit veroorsaak ʼn groef waarin ons leef en waarin ons dikwels vasgeval raak in die take wat verrig moet word, die werkslading, verantwoordelikhede by die huis en veral met kinders, dat ons soms byna ophou leef. Die spreuk sê mos – die enigste verskil tussen ʼn groef en ʼn graf is net die diepte. Ek hoor dikwels kliënte of mense sê dat hul lewe so voorspelbaar vervelig is, maar hulle weet nie hoe om daaruit te kom nie. Soek nou ʼn passiemoordenaar sonder ʼn groot geweer. 
Dit is wanneer mense dikwels sê: “Ons leef bymekaar verby.” “Ek ken nie meer my man of my vrou nie.” “Ek voel so gefrustreerd, want ek weet nie wat in my kind se lewe aangaan nie.” “Ons het doodeenvoudig net nie meer tyd vir mekaar nie.” 
Maar hoe keer ʼn mens dit om? Dit is die goue vraag. Die beste manier om roetine as ʼn motiveerder te gebruik is om die positiewe energie wat in roetine opgesluit lê ten beste te benut. 
Die goue antwoord hier is beplanning. Dit vra bietjie werk van almal in die gesin, maar wanneer daar na ʼn week se program gekyk word, en sekere tydsgleuwe geallokeer word wat spesiale tyd nét vir julle as gesin, of vir  ma en dogter en natuurlik vir ma en pa is, dan gebruik jy roetine positief om verhoudings te bou. En natuurlik is hierdie tydsgleuwe ononderhandelbaar. Net ʼn ernstige ramp mag keer dat hierdie tyd opgeoffer word, anders ontaard jou verhoudings in ʼn ramp wat afstuur op ʼn passiemoordenaar.

2. Ons is aan die verskillende kante van kwadrant. 
Ons mense verskil van mekaar en die kans is baie goed dat jy en jou huweliksmaat aan verskillende kante van die skaal is wanneer dit kom by roetine. Dalk verder aan die uiterste kante of dalk nader, maar julle sal heelwaarskynlik verskil. Die een se Saterdag is dalk tot op die minuut haarfyn uitgewerk, terwyl die ander een laat slaap en die dag maar vat soos dit kom sonder enige vooraf beplanning. Praat van ʼn passiemoordenaar. Die een wil spontaan gaan koffie drink of liefde maak terwyl die ander een dit wil inpas in die program. Praat van ʼn passiemoordenaar. En selfs as dit in die uitsonderlike geval so is dat julle dieselfde funksioneer, is die kanse goed dat een of meer van die kinders aan die ander kant van die kwadrant funksioneer. Weereens uitdagings, veral omdat ʼn baie belangrike deel van ons taak as opvoeders is om aan hul leiding te gee. Hoe hanteer ons hierdie uiterste wyses van funksionering dat dit nie alewig in passiemoordenaars ontaard en op konflik uitloop nie, maar as motiveerders in ons verhoudings dien? 
Die eerste belangrike stap tot ʼn suksesvolle funksionele verhouding is dat ons onsself en ons lewensmaats en kinders ken. Weet hoe julle funksioneer, wat vir jou belangrik is ten opsigte van roetine en of jy dit verduur of nie daarvolgens kan funksioneer nie. Sodoende kan julle mekaar in ag neem en die sisteem positief bestuur. 
Wat ons by die tweede belangrike punt bring, naamlik goeie effektiewe kommunikasie. ʼn Gesprek van vyf minute voor julle bed toe gaan of oor koffie in die oggend om ʼn bietjie te beplan, kan ure se opgekropte emosies, slegte hormone en konflik weghou. En laastens help mekaar. Gee soms toe dat jou Sondag beplan word en laat ruimte dat julle dalk op die ingewing van die oomblik eerder gaan buffet eet as pizza.

3. Ons sukkel om af te skakel en ek het nie tyd vir myself nie. ʼn Groot probleem van vandag se gejaagde lewe en gevolglik al ons roetines waarin ons vasgeval raak, is dat ons nie meer tyd kry en maak om af te skakel nie. Ek gooi sommer twee goggas hier saam. Nie net die probleem om af te skakel nie, maar tyd vir jouself. Ja, in ʼn verhouding en in ʼn gesin bly jy as individu steeds belangrik. As jy deur ʼn tyd van erge stres gaan, of uitbrand, dan word die hele sisteem negatief beïnvloed. ʼn Monster van ʼn passiemoordenaar. Tyd vir jouself is nie net baie belangrik vir die gesondheid van jou verhouding en huwelik nie, maar vir die hele gesinsisteem. Dit beteken daar moet tyd beplan word waar jy aan jouself aandag skenk, verkieslik daagliks in die oggende. Maar net so belangrik is dit dat die gesin of julle as huweliksmaats moet afskakel. ʼn Vinnige fliek Vrydagaand of om saam voor die TV te sit, is nie genoeg nie. Daar moet tye beplan word, al is dit net een keer ʼn maand waar julle kwaliteit tyd saam met mekaar spandeer. En dit is belangrik dat wanneer julle met vakansie gaan of wegbreek vir ʼn naweek, julle juis met die ou bekende roetines sal breek en sal fokus op mekaar en ook jouself.

Roetine is uiters belangrik vir ʼn gesonde, gebalanseerde lewe in vandag se gejaagde en vol lewenstyl. Daarsonder kan niemand en geen gesin effektief funksioneer nie. Maar roetine kan in ʼn monster ontaard wat ʼn passiemoordenaar kan word as ons hom nie reg bestuur nie.

Jy as individu, as huweliksmaats en as gesin kan egter roetine baie positief gebruik as ʼn motiveerder deur goeie beplanning en daai tye van ontspanning dalk juis te gebruik om net sonder enige roetine die tyd saam met mekaar te geniet.

Roetine kan ʼn passiemoordenaar wees jy maar net vasgeval is in die gebeure. Letterlik soos ʼn marionet wat deur ál die eise om jou, soos om betyds te wees vir skool en werk, en op die einde te voel jy word maar net rondbeweeg deur alles en almal. Of jy kan beheer neem deur roetine as ʼn motiveerder te gebruik deur goed te beplan en ruimte te laat vir almal se wyse van funksionering. 

Donderdag 07 Januarie 2016

As die feestyd saam met die familie bitter water is


Syngenesophobie

Dít is die vrees vir familie, spesifiek familiebyeenkomste oor die feesseisoen.

Die afgelope paar maande, en veral oor die feesseisoen, het ek ʼn interessante waarneming begin maak by vriende en kennisse oor hul emosies as hulle aan die komende feesseisoen dink, veral die tyd rondom Kersfees wanneer families tradisioneel bymekaar kom.

Aan die twee uiterste kante van die skaal, is daar aan die een kant ʼn absolute vrees om tyd saam met die familie te moet spandeer (ek vermy hier maar die woord kuier om verstaanbare redes). Aan die ander uiterste kant van die skaal is daar ʼn ongekende, uitbundige ekstase en afwagting om weer by en saam met die familie te kan wees (weereens vermy ek die woord kuier doelbewus.)

In my waarneming het ek gesien dat almal êrens hul ekwilibrium probeer vind in die vooruitsig van ʼn familiebyeenkoms.

Natuurlik is die gevoelens in die deursnee nie swart en wit en só ekstreem nie, maar êrens is almal iewers op hierdie skaal. Trouens, bitter min mense bevind hulle in die middel van so ʼn skaal waar hulle met almal ewe goed oor die weg kom sonder enige emosionele bagasie.

Elke mens of gesin hanteer dit ook verskillend.

Daar is diegene wie se familie hul beste vriende is en wanneer hulle ook al die kans kan kry, soveel as moontlik tyd gebruik om alles saam met die familie te doen. ʼn Vakansie van ʼn paar weke saam word gewoonlik beplan.

Nader aan die balanspunt van die skaal, kry jy aan weerskante diegene wat nie omgee om met tyd met familie te spandeer nie, maar wat ook nie ʼn hegte affiniteit met die familie handhaaf nie. Hulle sal dalk Kersdag of op die uiterste so een of twee dae ekstra rondom Kersdag saam met die familie deurbring.

Net aan die ander kan is diegene wat geen erg aan familietyd het nie, min in gemeen het met familie, maar nie kwade gevoelens of emosionele bagasie saamdra nie. Diegene sal eerder ander planne maak as om tyd saam met die familie deur te bring, of dit ʼn kortstondige kuier maak.

Op die heel ander uiterste kant sien ons diegene wat kontak en tyd saam met die familie tot die uiterste vermy en letterlik net in die werklik onvermydelike soos ʼn begrafnis dalk by ʼn familiebyeenkoms sal opdaag. Ek het al sulke familiesamekomste gesien waar dit gewelddadig raak of selfs op beserings uitloop.

Tussen hierdie twee uiterste en meer gematigde punte bevind alle individue en gesinne hul met betrekking tot die groter familie.

Natuurlik is dit ook nie net só eenvoudig nie.

Jy kan dalk met een familielid ʼn onbreekbare band hê, terwyl jy ʼn ander persoon ten alle koste vermy.

Hoe dit ook al sy, familiebyeenkomste is vir baie mense ʼn uiters emosionele en stresvolle tyd.

Só word ʼn tyd van liefde, harmonie, kuier en ontspan dikwels ʼn tyd waarna mense opsien of enige verskoning probeer uitdink om te vermy.

Na aanleiding van jou persoonlikheid, uitkyk op die lewe (paradigma) en waardesisteem word dit natuurlik ook heel verskillend hanteer.

Sommige van my vriende wat byvoorbeeld meer aan die vermydingskant van die skaal staan, het ek gesien raak heel kreatief en sal wel Kersdag gaan kuier, maar die tyd beperk.

Die reaksies kan uiteenlopend wees.

Maar die vraag is: Hoe hanteer ons so ʼn situasie wanneer jy êrens op die kant van die skaal van Syngenesophobie staan?

1. In die eerste plek, vra jouself die vraag af of jy so wil voortgaan en jaar in en jaar uit, wanneer die feesseisoen aanbreek, met omgekrapte emosies of onnodige stresvlakke sit oor die tyd wat voorlê? Natuurlik sal almal nee sê. Diegene wat in elk geval ʼn veer voel om doodeenvoudig die rug op die familie te draai, is nie die met ʼn probleem nie. Maar daar is baie ander persone wat of só mens georiënteerd is dat hul sukkel om standpunt in te neem en grense te trek, óf met skuldgevoelens sit dat hulle maar jaar ná jaar toegee en hulself wéér in dieselfde situasie laat inboelie. Die ergste is die wat onderworpe is aan fynbesnaarde (emosionele) manipulasie, hetsy van ʼn broer of suster of ʼn ouer. As jy een van dié mense is, gaan jy seker vir my sê: “Ek hoor wat jy sê en stem saam met jou, maar jy verstaan nie ons familie nie. Dit is nie so maklik nie.” Of iets in dier voege. Dit bly egter soos ʼn paal bo water staan, jy moet vir jouself die vraag vra of jy vir die res van jou lewe in die toekoms daarmee wil saamleef of nie. En as jy kans sien of nie die ruggraat het om iets daaraan te wil doen nie, moet dan nie kla nie. Aanvaar die konsekwensies van jou besluit en maak in dankbaarheid die beste daarvan. As dit dalk jou skoonouers – of familie waarmee jy probleme het, dan gaan dit natuurlik baie meer openlike kommunikasie en kreatiewe oplossings verg.

2. As jy egter ná dié feesseisoen sê genoeg is genoeg, dan bring dit my terug na my punt wat ek gister gemaak het. As jy ʼn voorneme het om dinge dié jaar anders te hanteer, help dit nie jy het net ʼn voorneme nie. Néé, dit is tyd om ʼn besluit te neem. Maak NOU daai besluit dat aan die einde van dié jaar gaan dinge anders wees. Maak nou die besluit dat jy nie die slagoffer van ander se emosionele- of kragspeletjies gaan wees nie. Wat sal toelaat dat ander ongevraagd hul neus in jou sake steek en aan jou wil voorskryf nie. Néé, neem nou daai besluit dat jy en jy alleen in beheer van jou lewe is en dat niemand verder dit gaan bepaal nie. Of dat julle as gesin bepaal hoe en met wie julle tyd wil en gaan spandeer. Maar maak die besluit nou aan die begin van die jaar.

3. Derdens, beplan. Moenie dat die einde van die jaar jou onkant vang nie. Ja, dit ís nog 12 maande van hier af, maar wanneer die lewe nou weer besig raak en jy in elk geval swem net om kop bo water in die daaglikse gejaag te hou, is die einde van die jaar weer op jou voor jy jou oë uitvee en dan is jy maar net weer in dieselfde Syngenesophobie ingedompel. Beplan nou al wat jy aan die einde van die jaar gaan doen. Dalk ʼn toer, of ʼn vakansie saam met jou vriende wat in dieselfde dilemma as jy sit of net tyd alleen wat jy dalk nodig het. En lig dan die familie so deur die loop van die jaar in dat jy hierdie ongelooflike vakansie aan die einde van die jaar bespreek het. En indien nodig, sommer so toevallig, dat jy jammer is dat jy nie die jaar saam met die familie gaan wees nie, maar jy kon nie die kans laat verbygaan nie. Volgende jaar doen jy dit weer en so weer die jaar daarna en voor jy weer kan sien, verwag niemand jou meer in die feesseisoen by ʼn familiesamekoms nie. Wees kreatief. Elkeen sal weet wat die beste oplossing is, al is dit om te bly werk en selfs ander tye van die jaar te moet verlof neem. Natuurlik gaan daar in sommige families die situasie wees dat dit nié so eenvoudig is nie, maar dink uit die boks en as jy sukkel, maak ʼn afspraak met my by Zoë-Huweliks– en Verhoudingsleiding dan werk ons nie net aan ʼn oplossing nie, maar ook aan die emosionele sy van die saak.