Syngenesophobie
Dít is die vrees vir familie, spesifiek
familiebyeenkomste oor die feesseisoen.
Die afgelope paar maande, en veral oor die
feesseisoen, het ek ʼn interessante waarneming begin maak by vriende en kennisse
oor hul emosies as hulle aan die komende feesseisoen dink, veral die tyd rondom
Kersfees wanneer families tradisioneel bymekaar kom.
Aan die twee uiterste kante van die skaal, is
daar aan die een kant ʼn absolute vrees om tyd saam met die familie te moet
spandeer (ek vermy hier maar die woord kuier om verstaanbare redes). Aan die
ander uiterste kant van die skaal is daar ʼn ongekende, uitbundige ekstase en
afwagting om weer by en saam met die familie te kan wees (weereens vermy ek die
woord kuier doelbewus.)
In my waarneming het ek gesien dat almal êrens hul
ekwilibrium probeer vind in die vooruitsig van ʼn familiebyeenkoms.
Natuurlik is die gevoelens in die deursnee nie
swart en wit en só ekstreem nie, maar êrens is almal iewers op hierdie skaal.
Trouens, bitter min mense bevind hulle in die middel van so ʼn skaal waar hulle
met almal ewe goed oor die weg kom sonder enige emosionele bagasie.
Elke mens of gesin hanteer dit ook verskillend.
Daar is diegene wie se familie hul beste
vriende is en wanneer hulle ook al die kans kan kry, soveel as moontlik tyd
gebruik om alles saam met die familie te doen. ʼn Vakansie van ʼn paar weke saam word
gewoonlik beplan.
Nader aan die balanspunt van die skaal, kry jy
aan weerskante diegene wat nie omgee om met tyd met familie te spandeer nie,
maar wat ook nie ʼn hegte affiniteit met die familie handhaaf nie. Hulle sal
dalk Kersdag of op die uiterste so een of twee dae ekstra rondom Kersdag saam
met die familie deurbring.
Net aan die ander kan is diegene wat geen erg
aan familietyd het nie, min in gemeen het met familie, maar nie kwade gevoelens
of emosionele bagasie saamdra nie. Diegene sal eerder ander planne maak as om
tyd saam met die familie deur te bring, of dit ʼn kortstondige kuier maak.
Op die heel ander uiterste kant sien ons
diegene wat kontak en tyd saam met die familie tot die uiterste vermy en
letterlik net in die werklik onvermydelike soos ʼn begrafnis dalk by ʼn
familiebyeenkoms sal opdaag. Ek het al sulke familiesamekomste gesien waar dit gewelddadig
raak of selfs op beserings uitloop.
Tussen hierdie twee uiterste en meer gematigde
punte bevind alle individue en gesinne hul met betrekking tot die groter
familie.
Natuurlik is dit ook nie net só eenvoudig nie.
Jy kan dalk met een familielid ʼn onbreekbare
band hê, terwyl jy ʼn ander persoon ten alle koste vermy.
Hoe dit ook al sy, familiebyeenkomste is vir
baie mense ʼn uiters emosionele en stresvolle tyd.
Só word ʼn tyd van liefde, harmonie, kuier en
ontspan dikwels ʼn tyd waarna mense opsien of enige verskoning probeer uitdink om
te vermy.
Na aanleiding van jou persoonlikheid, uitkyk op
die lewe (paradigma) en waardesisteem word dit natuurlik ook heel verskillend
hanteer.
Sommige van my vriende wat byvoorbeeld meer aan
die vermydingskant van die skaal staan, het ek gesien raak heel kreatief en sal
wel Kersdag gaan kuier, maar die tyd beperk.
Die reaksies kan uiteenlopend wees.
Maar die vraag is: Hoe hanteer ons so ʼn
situasie wanneer jy êrens op die kant van die skaal van Syngenesophobie staan?
1. In die eerste plek, vra
jouself die vraag af of jy so wil voortgaan en jaar in en jaar uit, wanneer die
feesseisoen aanbreek, met omgekrapte emosies of onnodige stresvlakke sit oor
die tyd wat voorlê? Natuurlik sal almal nee sê. Diegene wat in elk geval ʼn veer
voel om doodeenvoudig die rug op die familie te draai, is nie die met ʼn
probleem nie. Maar daar is baie ander persone wat of só mens georiënteerd is
dat hul sukkel om standpunt in te neem en grense te trek, óf met skuldgevoelens
sit dat hulle maar jaar ná jaar toegee en hulself wéér in dieselfde situasie
laat inboelie. Die ergste is die wat onderworpe is aan fynbesnaarde
(emosionele) manipulasie, hetsy van ʼn broer of suster of ʼn ouer. As jy een van
dié mense is, gaan jy seker vir my sê: “Ek hoor wat jy sê en stem saam met jou,
maar jy verstaan nie ons familie nie. Dit is nie so maklik nie.” Of iets in
dier voege. Dit bly egter soos ʼn paal bo water staan, jy moet vir jouself die
vraag vra of jy vir die res van jou lewe in die toekoms daarmee wil saamleef of
nie. En as jy kans sien of nie die ruggraat het om iets daaraan te wil doen
nie, moet dan nie kla nie. Aanvaar die konsekwensies van jou besluit en maak in
dankbaarheid die beste daarvan. As dit dalk jou skoonouers – of familie waarmee
jy probleme het, dan gaan dit natuurlik baie meer openlike kommunikasie en
kreatiewe oplossings verg.
2. As jy egter ná dié
feesseisoen sê genoeg is genoeg, dan bring dit my terug na my punt wat ek gister gemaak het. As jy ʼn voorneme het om dinge dié jaar anders te hanteer, help
dit nie jy het net ʼn voorneme nie. Néé, dit is tyd om ʼn besluit te neem. Maak
NOU daai besluit dat aan die einde van dié jaar gaan dinge anders wees. Maak
nou die besluit dat jy nie die slagoffer van ander se emosionele- of kragspeletjies
gaan wees nie. Wat sal toelaat dat ander ongevraagd hul neus in jou sake steek
en aan jou wil voorskryf nie. Néé, neem nou daai besluit dat jy en jy alleen in
beheer van jou lewe is en dat niemand verder dit gaan bepaal nie. Of dat julle
as gesin bepaal hoe en met wie julle tyd wil en gaan spandeer. Maar maak die
besluit nou aan die begin van die jaar.
3. Derdens, beplan. Moenie
dat die einde van die jaar jou onkant vang nie. Ja, dit ís nog 12 maande van
hier af, maar wanneer die lewe nou weer besig raak en jy in elk geval swem net
om kop bo water in die daaglikse gejaag te hou, is die einde van die jaar weer
op jou voor jy jou oë uitvee en dan is jy maar net weer in dieselfde Syngenesophobie
ingedompel. Beplan nou al wat jy aan die einde van die jaar gaan doen. Dalk ʼn
toer, of ʼn vakansie saam met jou vriende wat in dieselfde dilemma as jy sit of
net tyd alleen wat jy dalk nodig het. En lig dan die familie so deur die loop
van die jaar in dat jy hierdie ongelooflike vakansie aan die einde van die jaar
bespreek het. En indien nodig, sommer so toevallig, dat jy jammer is dat jy nie
die jaar saam met die familie gaan wees nie, maar jy kon nie die kans laat
verbygaan nie. Volgende jaar doen jy dit weer en so weer die jaar daarna en voor
jy weer kan sien, verwag niemand jou meer in die feesseisoen by ʼn
familiesamekoms nie. Wees kreatief. Elkeen sal weet wat die beste oplossing is,
al is dit om te bly werk en selfs ander tye van die jaar te moet verlof neem.
Natuurlik gaan daar in sommige families die situasie wees dat dit nié so
eenvoudig is nie, maar dink uit die boks en as jy sukkel, maak ʼn afspraak met
my by Zoë-Huweliks– en Verhoudingsleiding dan werk ons nie net aan ʼn oplossing
nie, maar ook aan die emosionele sy van die saak.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking