Hierdie volgende paar weke hier in die begin van die
jaar gaan ons ʼn bietjie stilstaan by die dooie hout in ons lewens. Op grond van
die analogie van snoei, kyk ons na verskeie tipe dooie goed in ons lewens wat
ons geluk, positiewe en gesonde funksionering en ons lewens op verskeie maniere
op ál agt vlakke raak.
In verhoudings spesifiek is daar dikwels dooie takke
wat tot gevolg kan hê dat paartjies nie funksioneer soos wat hulle moet nie. Of
wat groei verhinder. Dooie takke het tot gevolg dat die gesonde dele van die
plant nie na behore groei nie.
Verder is die doel van snoei om meer lig te bring
sodat daar meer son direk op die blare skyn sodat die plant beter vrug lewer.
Hoe meer dooie takke in ʼn verhouding gelos word, hoe donkerder word dit en raak
die paartjie dikwels al hoe meer na binne gekeer. Hoe meer die paartjie só met
die dooie hout betrokke raak, kry die gesonde dele van die plant al hoe minder
son. Dít het weer minder fotosintese tot gevolg wat op die ou einde ʼn
kettingreaksie met negatiewe gevolge tot gevolg het. Dit loop daarop uit dat
die verhouding swak vrugte dra.
Voordat ek in ʼn paar volgende paar blogs stilstaan by
dié tipe dooie hout wat gesonde, gebalanseerde en gelukkige verhoudings
heeltemal kan laat sterf, kom ons kyk dié week eers net ʼn bietjie na die
motivering vir en die proses van snoei.
Gesonde verhoudings is verhoudings waar dooie hout
gereeld uitgesny word. Waar paartjies deur middel van gesonde kommunikasie
dooie hout identifiseer, strategies die beste snoeiproses beplan en laastens
dit uitvoer en gereeld evalueer.
Een van die beste geskenke wat jy jou verhouding of
huwelik kan gee is om minstens een maal per jaar, maar indien moontlik selfs
meer gereeld, ʼn “snoei naweek” te beplan.
Ja, jy het reg gelees. ʼn Naweek waar in die verhouding
gesnoei word.
Mans wil mos dikwels net gaan dinge doen of het alewig
ʼn verskoning van vriende, huis, werk, sport of watter ander aktiwiteit ook al
wat hulle te besig hou om kwaliteit tyd met vroulief te spandeer. En gaan julle
vir ʼn naweek weg, word die meeste van die tyd aan aktiwiteite spandeer, of dit
nou kosmaak, visvang, gholf of wat ook al is.
Die vrouens daarenteen smag altyd na die romantiese
wegbreke. ʼn Naweek waar daar diep in mekaar se oë gekyk word en eintlik met die
hoop dat manlief haar van haar voete af gaan bederf en op die hande dra. Maar
aangesien vrouens met die jare (sou die verhouding of huwelik so lank hou)
wyser word, dan gebruik vroulief, in weerwil van manlief se aktiwiteite, die
naweek as
“me time”.
“me time”.
Dus ʼn hele naweek “saam” weg met die minimum tyd saam.
ʼn Snoei naweek is nie een van die twee nie. Dit is nie
die tyd om goed te gaan doen nie, maar dis ook nie ʼn romantiese wegbreek nie. ʼn
Aktiwiteit en romantiese saamwees kan natuurlik ingewerk word, maar solank dit
nie inmeng met die geselstyd nie.
Op só ʼn snoei naweek is die doel om knietyd, soos
sommige huweliksverrykingsfasiliteerders dit noem, saam te spandeer.
Eerstens is die doel om eerlik na julle verhouding te
kyk. Dit vra natuurlik die vermoë om goed en openlik te kan kommunikeer. Dit
vra respek vir mekaar se gevoelens, maar ook frustrasies. Dit vra dat julle
mekaar met genoeg vertroue sal hanteer omdat julle liefde vir mekaar steeds die
middelpunt en belangrikste faset van die verhouding is.
Tweedens word alle dooie hout soos wat ons in die
volgende paar weke gaan bespreek, geïdentifiseer. ʼn Ander Bybelse beeld vir
dooie hout is die klein jakkalsies.
Derdens word praktiese maniere bekyk hoe julle hiervan
kan ontslae raak. Hoe om dinge te verander of so te bestuur, intern in julle
huis, of ekstern, om te keer dat dit verder ʼn negatiewe invloed in julle
verhouding het.
Laastens beplan julle strategies hoe julle met julle
waardes en doelwitte vir julself, jul verhouding en jul gesin die volgende jaar
gaan aanpak. Beplan wat julle wanneer wil doen. Watter projekte julle dalk wil
aanpak. Waarop julle tyd wil spandeer en waarop nie.
Wanneer julle die oefening ʼn tweede keer herhaal in ʼn
paar maande se tyd of oor ʼn jaar, dan begin julle met ʼn evalueringsproses
waarin julle alles in oënskou neem voordat julle met die identifiseringsproses
begin.
In my boek wat later beskikbaar sal wees, sal so ʼn
snoei naweek prakties verduidelik word en sal al die hulpmiddels beskikbaar
wees om julle te help om ʼn suksesvolle en doelgerigte snoei naweek te geniet.
Die doel is om julle verhouding van krag tot krag te
laat groei. Julle sterk en suksesvol te maak, of anders gestel, funksioneel,
doeltreffend en gelukkig. Om julle liefde onbreekbaar te laat groei.
Snoeiwerk is ʼn positiewe proses wat gewoonlik verligting
bring. ʼn Klein bietjie harde werk, bring jare se gesonde vrugte na voorskyn!
- Vir meer inligting besoek my website by die skakel Zoë-Huweliks-en Verhoudingsleiding
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking