Ons almal ken sulke mense en dalk is jy een van hulle.
Diesulkes wat ʼn streng geroetineerde lewe lei en nie ʼn sekonde van hul fyn
uitgewerkte program afwyk nie en of onbeskof raak of in ʼn senutoestand ingaan, moet
hulle afwyk daarvan.
Aan die ander kant ken ons almal ook mense, en dalk is
jy een van diesulkes, wat voel hulle word met kettings beheer as daar enige
orde hoegenaamd in hul lewens is.
Tussen hierdie twee uiterstes punte van die skaal lê ons
almal.
Sommige wat roetine verpes, ander wat nie daarsonder
kan funksioneer nie.
As gevolg van die feit dat ons almal aan tyd gekoppel
is en dat die samelewing, die skool, jou werk en meeste funksies in die lewe in
absolute chaos sou verval as daar nie orde
was nie, moet ons almal daarby aanpas.
Maar hierdie geroetineerde leefstyl waarin ons dikwels
vasval, kan lei tot groot frustrasies in verhoudings en huwelike. So wat nou
gemaak? Hoe kan ons dit tot die beste van ons beskikking gebruik?
Roetine kan ʼn passiemoordenaar wees of ʼn motiveerder
vir jou en jou huweliksmaat of vir jou en jou gesin.
Hier is drie tipiese voorbeelde hoe roetine ons
verhoudings positief en negatief kan beïnvloed.
1. Vasgeval in
roetine.
Of
jy nou ʼn roetine mens is of nie, die daaglikse roetine waarin ons vasgeval
raak, dag in en dag uit, jaar in en jaar uit, veroorsaak dikwels dat ons
doodmoeg is aan die einde van die week. Dit veroorsaak ʼn groef waarin ons leef
en waarin ons dikwels vasgeval raak in die take wat verrig moet word, die
werkslading, verantwoordelikhede by die huis en veral met kinders, dat ons soms
byna ophou leef. Die spreuk sê mos – die enigste verskil tussen ʼn groef en ʼn
graf is net die diepte. Ek hoor
dikwels kliënte of mense sê dat hul lewe so voorspelbaar vervelig is, maar
hulle weet nie hoe om daaruit te kom nie. Soek nou ʼn passiemoordenaar sonder ʼn
groot geweer.
Dit is wanneer mense dikwels sê: “Ons leef bymekaar verby.” “Ek
ken nie meer my man of my vrou nie.” “Ek voel so gefrustreerd, want ek weet nie
wat in my kind se lewe aangaan nie.” “Ons het doodeenvoudig net nie meer tyd
vir mekaar nie.”
Maar hoe keer ʼn mens dit om? Dit is die goue vraag. Die beste
manier om roetine as ʼn motiveerder te gebruik is om die positiewe energie wat
in roetine opgesluit lê ten beste te benut.
Die goue antwoord hier is
beplanning. Dit vra bietjie werk van almal in die gesin, maar wanneer daar na ʼn
week se program gekyk word, en sekere tydsgleuwe geallokeer word wat spesiale
tyd nét vir julle as gesin, of vir ma en
dogter en natuurlik vir ma en pa is, dan gebruik jy roetine positief om
verhoudings te bou. En natuurlik is hierdie tydsgleuwe ononderhandelbaar. Net ʼn
ernstige ramp mag keer dat hierdie tyd opgeoffer word, anders ontaard jou
verhoudings in ʼn ramp wat afstuur op ʼn passiemoordenaar.
2. Ons is aan die
verskillende kante van kwadrant.
Ons mense verskil van mekaar en die kans is baie goed dat jy
en jou huweliksmaat aan verskillende kante van die skaal is wanneer dit kom by
roetine. Dalk verder aan die uiterste kante of dalk nader, maar julle sal
heelwaarskynlik verskil. Die een se Saterdag is dalk tot op die minuut haarfyn
uitgewerk, terwyl die ander een laat slaap en die dag maar vat soos dit kom
sonder enige vooraf beplanning. Praat van ʼn passiemoordenaar. Die een wil
spontaan gaan koffie drink of liefde maak terwyl die ander een dit wil inpas in
die program. Praat van ʼn passiemoordenaar. En selfs as dit in die uitsonderlike
geval so is dat julle dieselfde funksioneer, is die kanse goed dat een of meer
van die kinders aan die ander kant van die kwadrant funksioneer. Weereens
uitdagings, veral omdat ʼn baie belangrike deel van ons taak as opvoeders is om
aan hul leiding te gee. Hoe hanteer ons hierdie uiterste wyses van
funksionering dat dit nie alewig in passiemoordenaars ontaard en op konflik
uitloop nie, maar as motiveerders in ons verhoudings dien?
Die eerste
belangrike stap tot ʼn suksesvolle funksionele verhouding is dat ons onsself en
ons lewensmaats en kinders ken. Weet hoe julle funksioneer, wat vir jou belangrik
is ten opsigte van roetine en of jy dit verduur of nie daarvolgens kan funksioneer
nie. Sodoende kan julle mekaar in ag neem en die sisteem positief bestuur.
Wat ons
by die tweede belangrike punt bring, naamlik goeie effektiewe kommunikasie. ʼn
Gesprek van vyf minute voor julle bed toe gaan of oor koffie in die oggend om ʼn
bietjie te beplan, kan ure se opgekropte emosies, slegte hormone en konflik
weghou. En laastens help mekaar. Gee soms toe dat jou Sondag beplan word en
laat ruimte dat julle dalk op die ingewing van die oomblik eerder gaan buffet
eet as pizza.
3. Ons sukkel om
af te skakel en ek het nie tyd vir myself nie. ʼn Groot probleem van vandag se
gejaagde lewe en gevolglik al ons roetines waarin ons vasgeval raak, is dat ons
nie meer tyd kry en maak om af te skakel nie. Ek gooi sommer twee goggas hier
saam. Nie net die probleem om af te skakel nie, maar tyd vir jouself. Ja, in ʼn
verhouding en in ʼn gesin bly jy as individu steeds belangrik. As jy deur ʼn tyd
van erge stres gaan, of uitbrand, dan word die hele sisteem negatief beïnvloed.
ʼn Monster van ʼn passiemoordenaar. Tyd vir jouself is nie net baie belangrik vir
die gesondheid van jou verhouding en huwelik nie, maar vir die hele
gesinsisteem. Dit beteken daar moet tyd beplan word waar jy aan jouself aandag
skenk, verkieslik daagliks in die oggende. Maar net so belangrik is dit dat die
gesin of julle as huweliksmaats moet afskakel. ʼn Vinnige fliek Vrydagaand of om
saam voor die TV te sit, is nie genoeg nie. Daar moet tye beplan word, al is
dit net een keer ʼn maand waar julle kwaliteit tyd saam met mekaar spandeer. En
dit is belangrik dat wanneer julle met vakansie gaan of wegbreek vir ʼn naweek,
julle juis met die ou bekende roetines sal breek en sal fokus op mekaar en ook
jouself.
Roetine is uiters belangrik vir ʼn gesonde,
gebalanseerde lewe in vandag se gejaagde en vol lewenstyl. Daarsonder kan
niemand en geen gesin effektief funksioneer nie. Maar roetine kan in ʼn monster
ontaard wat ʼn passiemoordenaar kan word as ons hom nie reg bestuur nie.
Jy as individu, as huweliksmaats en as gesin kan egter
roetine baie positief gebruik as ʼn motiveerder deur goeie beplanning en daai
tye van ontspanning dalk juis te gebruik om net sonder enige roetine die tyd
saam met mekaar te geniet.
Roetine kan ʼn passiemoordenaar wees jy maar net
vasgeval is in die gebeure. Letterlik soos ʼn marionet wat deur ál die eise om
jou, soos om betyds te wees vir skool en werk, en op die einde te voel jy word
maar net rondbeweeg deur alles en almal. Of jy kan beheer neem deur roetine as ʼn
motiveerder te gebruik deur goed te beplan en ruimte te laat vir almal se wyse
van funksionering.
- Vir meer inligting of my te kontak, besoek gerus www.wilcoroberts.co.za

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking